MET RAAD & DAAD
Die Au Pair in Nederland en Godsdiens

Annelies Gibbs, NEDSA SA
14 Mei 2018
[supsystic-social-sharing id='1']
Dit is ’n baie sensitiewe onderwerp waaroor beslis gesels moet word. Die meeste van ons au pairs is nog gewoond om kerk toe te gaan en kom uit Christelike huise. Dit is baie selde dat ‘n au pair noem dat sy nie meer kerk toe gaan nie, en oor die algemeen is dit van groot belang vir au pairs om te noem dat hulle nog uit ouerhuise kom waar die Christelike waardes en norme n groot rol speel. Hulle is ook trots daarop en dit moet so wees.
Dit is egter nie dieselfde in Nederland nie. Dit is baie selde, indien enige, dat ‘n gesin sal noem dat hulle nog kerk toe gaan. Gewoonlik het n au pair geen probleem daarmee om na so ‘n gesin te gaan nie, want hoewel hulle nie meer kerk toe gaan nie, wil die Nederlanders dus wel hulle kinders opvoed met waardes en norme wat aanvaarbaar is deur die gemeenskap. Meestal word die kinders ook na Christelike skole gestuur. Die feit dat die meeste gesinne nie kerk toe gaan nie, beteken dus nie dat hulle noodwendig almal ateïste is nie, en al sou hier en daar een wel ‘n ateïs wees, maak dit nie noodwendig van hulle slegte mense nie.
Meestal het die au pairs geen probleem om deur so ’n gesin aanvaar te word nie, solank die gesin haar net die vryheid gun om Sondae na die kerk van haar keuse te gaan. Verder val sy dus in by die reëls van die huisgesin: geen Bybel- verhale word aan die kinders vertel nie, en geensins godsdienstige gesprekke met die kinders nie. Dit is dus nie die geleentheid vir die au pair om ‘n gesin te probeer “bekeer” nie, want sy sal vinnig op n vliegtuig teruggestuur word. Dit gaan dus hier om die wedersydse respek vir mekaar se verskillende sieninge en in die verlede het ons baie min noemenswaardige probleme hieroor gehad.
Daar het nou die laaste tyd n paar dinge gebeur wat dit noodsaak om hieroor te skryf. Die au pair gaan na Nederland op ‘n kulturele uitruilprogram, en dit is dus hoekom sy binne in ‘n gesinsopset geplaas word – daar kan die kultuur-uitruiling plaasvind. Sondae is die au pair normaalweg af en kan sy kerk toe gaan as sy wil, maar die kerk mag nie in die week aanspraak maak op die au pair nie. Ook al sou sy n paar uur “me time” het, kan en moet sy dit verwyl met dinge wat haar kultureel sal verryk : – besoek aan museums, fietstogte, saam met ander au pairs, stede en dorpe besoek, konserte bywoon, sportbyeen-komste bywoon saam met die gesin, saam met die gesin gaan op uitstappies, vlerke sprei na ander lande en stede. Die eerste reël wat geld, is dié reëls rondom die kulturele uitruiling, nl. die au pairprogram.
Die kerk waarheen die au pair sondae gaan, mag dus nie van ‘n au pair verwag om te help met die uitdeel van traktaatjies nie; om te help geldinsamel vir die kerk nie, ens. Dit is werk doen wat nie in die taakomskrywing van ‘n au pair staan nie. Netso mag ‘n au pair nie in haar vrye tyd ‘n kelnerin by ‘n restaurant gaan wees, of by ‘n ander gesin gaan stryk, of kinders gaan oppas nie. ’n Au pair word aan ‘n spesifieke gesin toegeken ( wat haar dus kies) en sy mag ook nie by ‘n ander gesin gaan uithelp met enige taak wat kinders betref nie. Daarvoor het die wette te streng geword, en die verontagsaming van hierdie reëls, lei tot boetes wat die agentskap moet betaal aan die IND ( instansie wat die reëls opstel en die visums toeken).
’n Gasgesin het die volste reg om by die agentskap te kla, indien hulle sou voel dat hulle au pair deur ’n kerkgenootskap “opgeeis” word. Die au pair wil dan kort-kort na die kerk gaan, ook in die week, en verwaarloos dan ook die werk en aandag wat sy aan die huis en kinders moet gee. n Au Pair is immers in Nederland om te au pair en nie om kerk toe te gaan nie (dis die bysaak.)
Die visum wat toegeken word, het betrekking op die ure wat ‘n au pair mag werk (30 per week, maks van 8 per dag). Die woord “werk” hou dus in wat ‘n au pair binne in die gesinsopset mag doen. Om kerk toe te gaan, is deel van die kulturele uitruiling, maar om te “werk” vir die kerk, mag hoegenaamd nie. Geen aansprake mag dus op die au pairs deur die kerk gedoen word nie. Dit is iets wat au pairs asseblief baie mooi moet na oplet. Sommige au pairs is veral in die begin nogal weerloos ( of skep dalk die indruk) en vanselfsprekend kry hulle dus die simpatie van lede van die kerk, want hulle voel vreemd, is ver weg van hulle ouershuis en wie sal nou nie so iemand jammer kry nie!! Maar dit is ‘n keuse wat ‘n au pair gemaak het en almal kry “homesickness”, en kom ook weer daaroor sonder dat die kerk sy pond vleis van jou moet eis, en jou begin beinvloed, manipuleer en indoktrineer.
Voornemende au pairs wat dalk sou dink dat sy/hy hiermee ‘n probleem gaan hê, moet dan liewer nie gaan au pair nie, want elke au pairagentskap wil graag gelukkige au pairs én gelukkige gasgesinne hê. As een van die twee partye ongelukkig is, oor die inmenging van ‘n kerk, sit ons met groot probleme.
Ons gee nie om waar au pairs in Nederland ‘n geestelike tuiste vind nie, solank daar nie van die kerk se kant inmenging en ook nie aanspraak op “au pairtyd” gemaak word nie.
