MET RAAD & DAAD

Die Nederlanders se direktheid

Annelies Gibbs, NEDSA SA

22 Maart 2018

[supsystic-social-sharing id='1']

Een van die dinge waaraan ’n au pair gewoond moet raak, as sy Nederland toe wil gaan, is die direktheid van die Nederlanders. Daarmee bedoel ek nou dat hulle nie doekies omdraai en die heuningkwas gebruik om iets aan jou oor te dra nie – nee, hulle praat reguit en jy sal dus altyd presies weet waar jy met hulle staan.

Vir buitelanders is dit dikwels ’n skok om die “prooi” te wees van die direktheid van die Nederlanders en dikwels word hulle ook as arrogant beskou. Openlikheid kry voorrang bo empatie, en dit is baie belangrik vir hulle. Die ontstaan van hierdie direktheid kan teruggeneem word na die Calvinistiese tydperk, maar dit is nou nie vir ons van soveel belang nie.

Saam met hierdie direktheid en openlikheid, gaan ook “bespreekbaarheid”. Alles is bespreekbaar, oor alles kan gepraat word en dikwels sien au pairs dit in die gesin se portefeulje dat hulle die woorde gebruik: “in overleg”. En dit sou ’n mens met ’n voorbeeld kon toelig: “Moet die au pair saam met die gesin met vakansie gaan?” Dan staan daar dikwels by: “in overleg”, met ander woorde dit is bespreekbaar.

Hierdie direktheid van die Nederlanders is ook bekend onder baie ander name: beledigend, onvanpas, brutaal, onbeskof ensovoorts, maar die feit bly staan, hulle sê wat in hulle gedagtes opkom. Hulle is beslis nie bang om onderwerpe te bespreek, wat dalk baie kontroversieel is nie. Hulle is baie trots op die feit dat hulle so reguit is en op die feit dat hulle dit “sê soos dit is”

Die meeste van die au pairs kan nogal hiermee sukkel, en dit is veral nodig om te weet dat hulle nie ’n kompliment gaan gee as dit nie een werd is nie. Ons is weer geneig om aan iemand ’n kompliment te gee, al bedoel ons dit nie regtig opreg nie, maar ons is bang om gevoelens seer te maak. Dit sal jy nie by die Nederlanders kry nie, en dit is nou nie dat hulle daarop uit is om gevoelens seer te maak nie, glad nie, hulle wil net duidelik maak dat jy presies weet waar jy staan. Jy hoef dus nooit te wonder of jy nou reg gehoor het het nie – jy het!

Tydens die onderhoude met au pairs word oor die direktheid van die Nederlanders gepraat, en dan kry ek dikwels die antwoord; “O, maar ek is net so reguit, dus dit sal nie vir my vreemd wees nie”. Maar dan wil ek vir jou sê, niemand, en ook nie jy nie, is so reguit soos die Nederlanders nie – hulle is so gebore, dis hulle geboortereg en dit neem jare om dit aan te leer en dan moet jy beslis onder hulle bly vir jare.

Verder gebeur dit dikwels dat au pairs in Nederland besluit dat hulle ook so reguit soos die Nederlanders gaan wees, en die een wat dit moet “ontgeld” is die agent hierdie kant. En ek noem spesifiek die woord “ontgeld” want die finesse waarmee die Nederlanders dit doen, ontbreek totaal en al by die au pair en dit word gewoon onbeskof en arrogant. Dit is nie iets wat ’n mens sommer binne ’n paar maande aanleer nie.

Die beste is dat elkeen maar doen waaraan hy/sy gewoond is.

Share This