MET RAAD & DAAD

Die rol van jou ouers in jou au pair-jaar

Annelies Gibbs, NEDSA SA

19 Februarie 2018

[supsystic-social-sharing id='1']

As jy gedink het jy is nou ʼn jaar van jou ouers ontslae, maak jy ʼn groot fout. Hoewel hulle miskien nie fisies daar gaan wees nie, speel hulle ʼn baie belangrike rol in hierdie jaar wat jy weg sal wees.

Hulle rol is tweërlei van aard:

1. Ondersteunend

2. Motiverend

Dit is vir alle agente baie belangrik om te weet jy het die ondersteuning van jou ouers as jy vir ʼn jaar gaan au pair. Dit sal beslis ʼn baie goeie ding wees om te doen om met mekaar vooraf alle struwelinge uit die weg te ruim, voordat jy sou gaan. Indien dit NIE die geval is nie, kan ons ons eie oordeel gebruik om jou dus nie te stuur nie.

Jy gaan na ʼn vreemde land, omgewing, gesin, kultuur en as jy dan nog boonop kwaad weg is tuis, dan is dit ʼn baie goeie resep vir ʼn mislukking. Want jou ouers is diegene wat jou moet ondersteun; jy moet weet dat hulle bereikbaar is ingeval jy ʼn traan wil stort, raad wil hê oor hoe om ʼn kind te hanteer en hoe om rys te kook, ens. Hulle verskaf die veilige basis wat jy so nodig het om ʼn sukses van die jaar te maak. Hulle is jou anker in ʼn vreemde wêreld, daardie stem van ma is soms só nodig om net weer te hoor en pa se gerusstellende versekering dat hulle agter jou staan.

Verder speel hulle die rol om jou te motiveer in tye wat jy voel nou kan en wil ek nie meer nie. Dan moet dit jou ouers wees wat aanmoedig, motiveer, weer vir jou sê hoekom jy dit gekies het om te doen en NIE sê: “Kom maar huis toe, my kind,” nie. Dan moet hulle reg staan met raad, lekker aanmoedigende geselsies, dalk sommer ʼn resep of twee stuur, voorstelle kan maak hoe jy ʼn stout kind moet hanteer, wat jy moet doen as jy voel dinge raak vir jou te veel. Dit is hoekom hulle so belangrik is, en as jy dus kwaad weg is en nie hulle goedkeuring het nie, sit jy regtig hier met ʼn probleem.

Vanselfsprekend speel ons agente ook die rol om te help en te motiveer, maar die heel persoonlike kontak wat jy met jou ouers het, ontbreek. En wie ken jou nou beter as Ma en Pa?

Vanselfsprekend is dit ook vir jou ouers moeilik om te sien hier gaan my kind die huis uit, en daarom kan ons as agente meer hulle met raad bystaan. Dit is dikwels vir ons baie vreemd dat ouers so wegskram om so nou en dan die gesin te bel en te hoor of hulle tevrede is met jou. Jy pas mense se kosbaarste besittings op, maar jou ouers het ook hulle kosbaarste besitting gestuur en daarom het hulle die volste reg om so af en toe met die gasgesin te gesels. Die gasgesinne het baie hoë waardering daarvoor en daardeur kry hulle ook die versekering dat daar meer mense as net hulle is wat in die projek belê het.

Die kersie op die koek is natuurlik ook as jou ouers (of andersins ma dan) vir jou kan kom kuier! Diegene wat nie so bevoorreg is om hulle ouers in Holland te ontvang nie, staan sterk en ondersteun mekaar en maak saam planne. ’n Jaar gaan so vinnig verby.

En hier wil ek dus graag ook vir die ouers die volgende aanhaal:

“Your greatest contribution to the Kingdom of GOD,
may not be something you do,
but someone you raise.”

– Anoniem

Ouers, julle het julle kinders die wortels gegee wat hulle anker in die lewe is, maar gee hulle nou ook die vleuels om hulle vlerke te mag sprei.

Share This