MET RAAD & DAAD

Ek is nou ʼn au pair, wat nou?

Annelies Gibbs, NEDSA SA

13 April 2019

[supsystic-social-sharing id='1']

Nou goed, ek het die keuring nou geslaag, ek het aan al die vereistes voldoen, ek is aanvaar deur ʼn gesin en ek is nou hier in Nederland, wat nou? Nou begin die harde werk, die beloftes wat jy gemaak het, moet uitgevoer word, dit wat jy gesê het gaan jy doen, moet gedoen word, en natuurlik nou moet jy wys hoe jy dit gaan doen. Dit is waar die kruks van die saak lê en dit is hier waar die regte au pair haar onderskei van die wat leë beloftes gemaak het.

Om te au pair, is soos om ʼn onderwyseres te wees – jy moet elke dag voorbereid instap en weet wat jy met die kinders gaan doen. As ʼn onderwyseres nie voorberei het vir die klasse nie, kom die kinders dit baie gou agter en dit is dan wanneer dinge chaoties kan raak. Net so met ʼn au pair ook. Au Pair-wees is meer as net oppasser-wees.

Jou time schedule is niks anders nie as die rooster en jy moet gaan kyk hoe dit lyk vir elke dag. Saans begin jy met jou voorbereiding vir die volgende dag, en onthou: jy het twee tot drie verskillende “klasse”, (afhangende van die aantal kinders en hul ouderdomme) en vir elkeen moet dus voorbereiding gedoen word.

Jy behoort na ʼn paar dinge te kyk as jy begin met voorbereiding:

  1. Geslag: tot op ʼn sekere ouderdom kan beide geslagte nog lekker saamspeel, maar dan gaan dit begin gebeur dat die een wil met dit en die ander met dat speel, dus geslag is wel belangrik.
  2. Ouderdomme van die kinders: dit bepaal dus die verskillende “klasse”.
  3. Belangstelling van die kinders – dit is dus baie belangrik dat jy ook aandag gee aan die dinge waarin hulle belangstel om dit dan ook verder te ontwikkel.
  4. Die weer speel ook ʼn groot rol. Kan ek dit buite waag of moet ek voorberei vir iets binnekant?
  5. Die Nederlandse kinders is die gelukkigste kinders in die wêreld en jy sal dit so moet hou.
  6. Die kinders is baie berese (reis baie) en het dus al baie van die wêreld te siene gekry – gebruik dit tot jou voordeel.
  7. Kinders is verbeeldingryk – gebruik dit en ontgin dit verder.

Hoe kan ek dus te werk gaan? Is elk veronderstel om alles uit my kop te ken?

Nee, dit verwag ons nie van jou nie, maar ons verwag dus wel dat jy inligting sal inwin en nie handjies gevou sit en wag dat die kinders vir jou sê wat hulle wil doen nie. Jy moet die leiding neem, want as die kinders die leiding gaan neem, sien ek al hoe jy die hele dag agter hulle gaan aanhardloop!

Waar kan ek dan hulp kry?

Ai tog, het jy vergeet die towerwoord is: “Google”. Tik byvoorbeeld in: “How to Keep Children busy” en ʼn hele nuwe wêreld gaan oop voor jou.

Hier is ʼn paar nuttige skakels:

https://www.care.com/c/stories/3780/101-things-to-do-when-kids-say-im-bored/en-au/

https://www.iol.co.za/lifestyle/family/parenting/101-fun-things-to-do-with-the-kids-625894

https://www.mykidstime.com/things-to-do/101-things-to-do-with-kids-that-will-cost-nothing-but-time/

https://www.fireflybooks.com/catalogue/adult-books/health-beauty/product/11282-101-things-for-kids-to-do-outside

Jy kan self verder soek, jy is ʼn jongmens wat bedrewe is met die rekenaar om te kan “google”. Dit is maar net enkele links in ʼn kuberruimte vol idees.

Wat moet jy beslis NIE doen nie?

  1. Moenie ʼn kind voor die TV neersit en dink jy hou hom nou besig nie. Die Nederlanders is, wat dít betref, redelik anti-TV, want hulle kinders moet aktief wees en gesonde kreatiwiteit kan uitleef.
  2. Moenie dink die kinders is groot genoeg om hulleself besig te hou nie. Jy moet die leiding neem en nie andersom nie.
  3. Moenie die kinders se intelligensie onderskat nie, jy gaan tweede daarvan afkom.

Sterkte, jy is besig met ʼn groot taak!

Share This