MET RAAD & DAAD

Gaan ek homesick word?

Annelies Gibbs, NEDSA SA

3 Augustus 2017

[supsystic-social-sharing id='1']

Ja, jy gaan, dit is iets wat geen au pair ooit ontsnap nie! Dit is ʼn gegewe en nou gaan dit afhang hoe jy dit gaan hanteer.

Wat presies is homesickness? Die Engelse woord sê dit baie duidelik: Homesickness is the distress by being away from home(land), family and friends. Dit beteken dus dat jy baie na jou land, familie en selfs vriende gaan verlang. Soms dink ek dat van die au pairs meer na hulle vriende of ʼn spesiale vriend verlang as na hulle ouers!

Homesickness kan dadelik intree sodra jy daar aankom, of na so ’n paar maande as al die nuwigheid verby is. Maar vryspring gaan jy dit nie! Almal kry dit nie in dieselfde graad van intensiteit nie. Die meisies wat al ʼn paar jaar in ʼn koshuis weg van ouerhuis af gebly het, ervaar dit nie so intens nie.

Hoe gaan dit voel of wat is die tekens?

  • Jy dink konstant aan jou ouerhuis
  • Jy raak angstig
  • Jou motivering (van hoekom jy in Holland is) neem af
  • Jy verskil van ander wat die nuwe ervaring terdeë geniet
  • Jy voel geïrriteerd
  • Jy voel eensaam
  • Jy mis alles wat jy met jou huis assosieer
  • Jy raak negatief en raak hartseer, jy onttrek jou van ander en wens jy kan met iemand connect wat die gevoel kan wegvat.

Baie meer simptome kan opgenoem word, maar bogenoemde beskryf sommige van dit wat jy moontlik mag ervaar.

Homesickness moet nie met depressie verwar word nie!!

Wat kan ek daaraan doen, as ek so begin voel?

  • Besef eerstens dat dit ʼn normale gevoel is en dat ALMAL daar deurgaan.
  • Gun en gee vir jouself die tyd om by jou nuwe omgewing aan te pas.
  • Praat met ander oor hoe jy voel. Vertel jou gasgesin, familie, ander au pairs of jou agent.
  • Kry foto’s en dinge wat jou aan die jou huis laat dink om in jou nuwe kamer te sit (vat dit dus sommer by voorbaat saam!).
  • Maak planne om besig te bly, gaan besoek plekke en doen dinge om jou aandag af te trek.
  • Raak betrokke by ander au pairs en aktiwiteite wat gereël word. Baie keer is ʼn mens nie hiervoor lus nie, maar dit is juis die lyn wat jy moet oorsteek.
  • Moenie jou gevoelens ignoreer of probeer om dit met drank, dwelms of riskante gedrag te doof nie.
  • Leer wat jou sal help om te ontspan – miskien is dit mooi musiek, ʼn lekker fietsrit deur die bosse, oefening, gaan draf – iets wat dus by jou sal pas.
  • Gaan bekyk jou omgewing – dis anders, nuut, vreemd en lekker!!
  • Bly in kontak met familie en vriende op gereelde basis (nie noodwendig elke aand nie!).
  • Wees positief oor jou nuwe omgewing, die taal en die kultuur – dit is tog waarvoor jy gekom het!!
  • Luister na die raad van ander, al beteken dit dat dit nie regtig dinge is waarvan jy hou nie, maar wel nodig is.

Deur die jare se ervaring met au pairs, het ek geleer dat sommige au pairs nie regtig die raad wil aanneem wat gegee word nie, want dit haal hulle uit hulle comfort zone uit. Ja, dis presies wat ek sê, dit word ʼn gemaksone, en dis lekker, want almal kry my jammer en het simpatie met my! Met so ʼn houding bereik jy niks nie en maak jy jou ouers baie angstiger as wat hulle reeds is. ’n Persoon wat homesick is, kan baie selfsugtig wees, want haar doen en denke draai net om haarself. En julle sal oplet dat ek hier juis praat met die dames. Nog nooit in al die jare, het ek ʼn enkele geval van ʼn manlike au pair gehad wat homesick is nie!!

As jy dus jou bevind in so ’n homesick-situasie, kom gou daaroor en maak dit die beste jaar ooit!

Volgende keer meer oor: Wat maak ek as die kinders nie na my luister nie?

Share This