MET RAAD & DAAD

Hoe hanteer ek dit as ek nie met my Hostma oor die weg kom nie?

Annelies Gibbs, NEDSA SA

5 September 2017

[supsystic-social-sharing id='1']

Een van die dinge wat met jou as au pair kan gebeur is dat jy nie met jou hostma oor die weg kom nie. Dit is iets waarvan dadelik werk gemaak moet word.

Normaalweg is dit maar jy wat die nodige aanpassings moet doen, en dikwels is dit ʼn groot teleurstelling, want julle het dan nou al so dikwels voor jou vertrek lekker gesels en dit het so belowend gelyk! En nou lyk dit of sy ʼn heks kan wees! Persoonlikheidsverskille kom na vore – sy het ʼn ander manier hoe sy dinge gedoen wil hê; julle manier van dinge doen, verskil totaal en al; sy kritiseer jou oor die kos; oor die manier waarop jy met die kinders praat; hoe jy hulle hanteer ensovoorts.

Dit maak nou nie saak wat regtig die probleem is nie, die feit is dit moet opgelos word. Hoe gaan ek te werk? Jy begin net daar in die huis, deur met haar te reël dat julle een aand om die tafel met mekaar hieroor kan gesels. Wag asseblief dat die kinders in die bed is, voordat julle met hierdie gesprek begin. Dis nie lekker om met kinders mee te ding om die aandag van die hostma nie.

Nou het julle ʼn stil tydjie gekry en vra eers of jy vir julle ʼn koppie tee/koffie/glasie wyn kan kry. Gaan sit dan rustig om die tafel en kom sommer direk tot die punt, want netnou gebeur daar weer iets wat haar aandag vra.

Begin altyd met ʼn positiewe aanslag — met ander woorde vertel haar hoe jy dit geniet in Holland, bedank haar vir die geleentheid wat hulle jou bied as au pair by hulle aan huis, hoe lekker jou kamer is, hoe jy die kinders geniet en hoe lief het jy vir hulle geraak in ʼn kort tydjie ens. Maar vertel vir haar dat dit vir jou voel of sy nie baie van jou hou nie, of dinge nie vlot wil verloop nie en wat kan jy daaraan doen om die situasie te verbeter. Onthou jy is hier die minste en jy vra dus wat jy kan doen om dinge tussen julle te kan verbeter.

Dit kan wees dat dit klein dingetjies is waaraan jy dalk net nie gedink het nie, en wat ʼn mens sonder moeite kan regmaak, maar dit kan ook iets wees waarvoor jy regtig ʼn groot aanpassing sal moet maak. As jy voel dat dit iets is wat teenstrydig is met jou persoonlikheid, dan moet jy dit noem en nie sommer instem om dit te doen nie, sy moet ook besef dit is dinge waaraan jy nie elke dag gewoond is aan nie. So miskien is dit iets waaroor julle sal moet compromise. Hierdie hele jaar se au pair-werk is gebaseer op “gee-en-neem”. Beide sal dinge moet prysgee en in die proses weer iets bykry. Onthou dit is ʼn kultuuruitruilingsprogram en iets wat uitgeruil word, kom nie net van een kant nie — jy sal moet gee en sy sal moet gee. Wees altyd beleefd. Ek het al gesien dat van ons au pairs dikwels die direkte manier van die Nederlanders wil na-aap, maar het nog nie regtig die nodige know how om dit met finesse te doen nie.

In die meeste gevalle behoort so ʼn geselssessie die probleme te kan oplos. Blyk dit dat die probleme groter is, sal jy moontlik die hulp van die agent daar in Nederland moet inroep of jou agent in SA se hulp. In enkele gevalle sal ons miskien na die uitsterste moet oorgaan: neem die au pair daar weg en plaas haar by ʼn ander familie.

Onthou net dat dit nie sommer gedoen word nie — alle metodes om die verhouding te laat slaag moet gebruik word en sou ons dan sien dit is ʼn hopelose geval, sal ons dit doen. Daar is natuurlik ʼn paar voorwaardes hieraan verbonde:

  1. Jy mag nie onverantwoordelik opgetree het nie.

  2. Jou huidige gesin moet hulle toestemming gee hiervoor.

  3. Daar moet ʼn nuwe gesin gesoek word, dikwels ook by ander agentskappe.

  4. Jou nuwe gesin moet bewus wees waarom word jy oorgeplaas en wat die issues was.

  5. Jou omgewing gaan verander deurdat jy in die meeste gevalle nie ʼn gesin kry in dieselfde dorp/stad nie.

  6. Jou aantal kinders waarna jy moet kyk, kan meer of minder wees.

ʼn Oorplasing is nie altyd die ideaal nie, maar tog vind au pairs dit baie beter as om met iemand oor die weg te probeer kom wat “set in her ways” is.

My raad aan alle au pairs is: doen van die begin af wat gesê word, sorg dat misverstande so gou as moontlik opgelos word, praat met mekaar Engels indien jy nie die Nederlands verstaan nie, sorg vir ʼn goeie sin vir humor en probeer die snaaks in elke situasie in te sien. Maak vriende en nie vyande van die gesin nie!

Volgende keer praat ek so bietjie oor Kultuurverskille.

Volgende keer praat ek oor: Hoe hanteer ek dit as ek nie met my hostma oor die weg kom nie?

Share This