MET RAAD & DAAD

Is jy vir ons ’n risiko?

Annelies Gibbs, NEDSA SA

23 Maart 2019

[supsystic-social-sharing id='1']

Tydens die twee keuringsonderhoude, (ja, jy het reg gelees, dit staan in die meervoud) probeer ons bepaal of jy, wat wil gaan au pair, vir ons ʼn risiko inhou. Die eerste onderhoud word gedoen deur die agent by wie jy aangemeld het, en die tweede een by enige een van die ander agente. Ons doen dit spesifiek om seker te maak dat twee mense darem ʼn idee het of die persoon voor ons, au pair-materiaal is. Dit maak ook die keuringsproses meer objektief.

Wanneer hou jy vir ons ʼn risiko in?

  1. As jy op anti-depressante is. Gasgesinne kies normaalweg nie iemand wat op hierdie pille is nie, ook nie eens as jou huisdokter ʼn brief sou skryf om te bevestig dat dit nou met jou goed gaan nie.
  2. As jy enige ernstige chroniese siektetoestand het wat ʼn gevaar vir jou en vir die kinders wat jy moet oppas, inhou, byvoorbeeld epileptiese aanvalle, hartkondisies, rugprobleme (jy sal baie trappe moet klim, fietsry) ens.
  3. As jy meer as 90kg weeg, kan dit wees dat jy nie sommer gekies gaan word nie, want jy moet tog immers die hele dag agter die kinders aanhardloop, hulle voor wees op elke gebied, en ekstra gewig kan jou belemmer.
  4. As jy rook of noem dat jy gerook het. Niemand soek ʼn au pair wat rook nie, en niemand glo dit as sy sê sy het opgehou daarmee nie. Dis die jammerte van alles, dat niemand jou glo dat jy regtig opgehou het nie. Seker omdat almal wat dit gesê het, gejok het in die verband en uitgevang is deur die familie.
  5. As jy nie kan fietsry nie. Dit is die au pair se belangrikste vervoermiddel, en om te kan fietsry is belangriker as om ’n bestuurslisensie te hê. En deesdae moet jy ook bewys kan lewer dat jy wel kan fietsry, deur ʼn kort video te neem waar jy ry en dit dan deur te stuur aan Annelies.
  6. As jy ʼn kandidaat is wat so pas klaar gemaak het met matriek, of besig is daarmee, moet jou gemiddeld ʼn minimum van 60% wees. Au pair-wees is nie iets wat enige een kan doen nie, want jy moet inisiatief kan neem, vooruit kan dink, verantwoordelikheid neem vir sekere situasies en op jou voete kan dink sonder om jou ouers se raad te vra ens.
  7. As jy net doodgewoon in die onderhoud toon dat jy nie die nodige “know how” het nie, en dus nie oor die nodige ervaring (minimum van 50 uur) en kennis beskik nie.
  8. Dat jy nie ʼn rolmodel vir die kinders sal wees nie, want jy het jou lyf vol laat tatoeëer, jy is bering deur enige moontlike plekkie en gaatjie, jou hare is vandag pienk en môre blou en jy begin lyk soos ʼn verkleurmannetjie!
  9. As jy ʼn kriminele rekord het – dis te verstane dat niemand in jou sal belangstel nie, al was jy nou hoe “onskuldig”. Trouens, ek dink nie eens jy gaan toegelaat word om die land te verlaat nie.
  10. As jy baie ma-vas is, hou dit beslis ʼn risiko vir ons in, want jy verlang sommer in die eerste week huis toe en wil terugkom! En veral as Mamma dan sou sê: “Ag my kindjie, kom maar huis toe.”
  11. As ons sou agterkom jy wil die au pair-program gebruik om uit die land uit te kom, weg te kom van jou ouers, en dan veral “om myself te gaan vind!” As jy jouself nie in SA , onder bekende omstandighede kan vind nie, hoe gaan jy dit in Nederland regkry?

Dit is belangrik dat jy voorbereid sal wees vir beide onderhoude. Al word die onderhoude nie meer altyd persoonlik gedoen nie, maar met ʼn whatsapp video call, is dit vir die onderhoudsvoerder baie belangrik hoe jy jouself op die video call aanbied: lyk jy ordentlik, of sukkel jy die hele tyd met hare wat voor jou oë hang, jou bra-bandjie wat telkens van jou skouer afgly, is jy meer “bedlêend” as wat jy ordentlik regop sit, het jy al jou pajamas aan, ensovoorts. Hierdie dinge skep ʼn swak indruk.

Wat nog ʼn swakker indruk skep, is as jy niks kan vertel van die land waarheen jy wil gaan om te au pair nie! Dit behoort vanselfsprekend te wees dat ʼn mens meer gaan uitvind oor die land waar jy vir ʼn jaar wil gaan bly en dat jy dit darem seker op ʼn kaart sal kan vind! Oor hierdie afdeling staan die onderhoudvoerders verstom oor die antwoorde wat hier uitkom.

Wat geweldig irriterend is vir die onderhoudvoerder, is as jy telkens sou rondkyk in die kamer, vir die persoon wat dan ook in die kamer is by jou, en duidelik antwoorde vra. Óf die persoon sit langs jou, óf jy is alleen, maar die die een wat êrens op die agtergrond is, word nie meer geduld nie. As jou ma graag wil bysit, is sy welkom langs jou, maar nie om vrae te beantwoord nie.

Elke onderhoudsvoerder vra teen die einde van die onderhoud of jy enige vrae het om te vra, en dit skep regtig ʼn swak indruk as jy geen vrae het om te vra nie.

Al die bogenoemde dinge, enige een van punte 1-11, kan jou aansoek direk laat misluk en die ander dinge kan ʼn groot bydraende faktor wees tot die mislukking van die aansoek.

Sou jy dus wel gekeur word, beteken dit nie dat alles nou vir die res van die proses “hunky-dory” is nie, want kan jy nie hou by sperdatums en opdragte nie, en nie die nodige dokumentasie lees wat aan jou gestuur word nie, kan die keuring omgedraai en jy afgekeur word.

Elke onderhoudsvoerder probeer ʼn gemaklike atmosfeer skep waarin die onderhoud sal plaasvind, dus dit sal ook baie van jou afhang, hoe jy daarop gaan reageer.

Ons het ʼn bepaalde standaard om te handhaaf en ons glo liewer aan kwaliteit as kwantiteit.

Share This