MET RAAD & DAAD
Kultuurverskille tussen ons en die Nederlanders Deel 1

Annelies Gibbs, NEDSA SA
24 September 2017
[supsystic-social-sharing id='1']
“Ons Suid-Afrikaners is te ordentlik om eerlik te wees, en die Nederlanders is te eerlik om ordentlik te wees.”
Hierin lê die meeste probleme in opgesluit en is dit iets wat elke potensiële au pair van die begin af moet besef.
Die eerste waarmee rekening gehou moet word, is die direktheid van die Nederlanders. Hulle draai nie doekies om nie, en “sugar coat” niks nie. Jy gaan dus baie duidelik weet waar jy staan met hulle. Jy gaan sukkel daarmee, want soms dink ’n mens hulle is onbeskof, maar dit is beslis nie so bedoel nie.
Dit is verder baie belangrik om te weet, dat die Nederlanders nie sommer komplimente uitdeel nie; inteendeel, kritiek kom baie gouer! As voorbeeld: ’n au pair kook die lekkerste kos, alles word opgeëet, en niemand sê iets oor die kos nie. As die au pair dan nou sou vra: “Maar is dit nou nie vir julle lekker nie?” dan antwoord die pa; “Ons sou gesê het as dit nie was nie!” Dus, kry jy nie kritiek nie, is dit ’n kompliment!!
Die aanspreekvorme “oom” en “tannie” word beslis nie daar geduld nie. Jy spreek almal op hulle naam aan, ongeag die ouderdom. Net as dit werklik familie van jou is, kan jy oom en tannie. Dit word nie gesien as disrespekvol nie, glad nie. Klein kindertjies spreek ook ouer mense op hulle name aan. Moeilik vir ons om te verteer, want ons “Oom” en “Tannie” almal wat 10 jaar ouer is.
Wat eetgewoontes betref, is hulle absoluut ingestel daarop om niks te vermors nie, en dis beter as alles opgeëet word. Dus sou jy nie ’n bepaalde ete bywoon nie, moet jy dit beslis vooraf sê. Kos wat oorbly kan nie vir mense gegee word wat dalk kom bedel nie, doodeenvoudig omdat daar nie bedelaars is nie.
Die Nederlanders is altyd opsoek na ’n winskoop, en dit kom uit hulle agtergrond uit omdat hulle ’n handeldrywende volk was. Hulle kan soms baie suinig voorkom, veral as iemand hulle iets sou skuld. Hulle gun hulself net die beste en sal elke vakansie weggaan as dit moontlik is.
Fietsry is ’n kultuurding!! Die kinders word so grootgemaak van kleins af. Behalwe dat dit baie goeie oefening is, is dit deel van hulle daaglikse bestaan. Dinge word eenvoudig, meestal met die fiets gedoen en daarvoor is hulle ingerig. Die heerlikste fietse, fietspaaie, voorkeur aan fietsryers, die pragtige natuur om deur te fiets, restaurante langs die fietspaaie en in die bosse, wat die nodige lafenis kan bied — wat meer wil ’n mens hê! Geen berge nie, dus alles gelykpaaie. As jy as au pair nie daar wil fietsry nie, gaan jy baie gou uit voel en au pairs wat glad nie kan fietsry nie, sal beslis nie geplaas word nie.
’n Selfoon — of mobiel, soos hulle dit noem — is beslis net n noodmiddel en geensins soos ons dit hier gebruik, om elke vrye oomblik daarop te spandeer nie. Mense loop of sit nie daar rond en sit die hele tyd en peuter op hulle selfone nie, en raak gewoond daaraan om nie sommer te hardloop as die ding lui nie. Veral nie as jy aan tafel sit of by mense kuier nie — dis bloot ongeskik! Raak gewoond daaraan om net saans dit te gebruik om gou ’n whatsapp te stuur of om te kyk wie het jou deur die dag gesoek. As jy werk (werkstyd) loop jy nie met jou selfoon rond nie.
Dit is enkele groot kultuurverskille en volgende gesels ek n bietjie meer oor hulle tradisies en spesiale vakansiedae.
