MET RAAD & DAAD
Nedsa by die see …

Annelies Gibbs, NEDSA SA
18 Januarie 2018
[supsystic-social-sharing id='1']
Nou ja, intussen het die Groot Trek plaasgevind, maar hierdie keer na die suide, sonder ʼn ossewa, maar wel met ʼn groot vragmotor van die verhuisingsmense. Alles het seepglad verloop, die 3 honde en kat, het die luuksheid van ʼn vliegtuigvlug gehad, terwyl ons mense dus op een dag deur die Karoo is en by ons nuwe tuiste aangekom het – ingewag deur die diere en familie.
Ondertussen is ʼn paar weke verby, die groot uitpak so-te-sê–klaar, behalwe nog vir ʼn klompie bokse waarvan die inhoud nog ʼn plekkie soek. Maar dit sal kom, daar is geen haas nie. Ons is wel nou op ʼn stadium waar ons dikwels moet soek na iets, want dit is nou nie meer op sy vertroulike plekkie nie en die gedagte van “waar het ek dit nou weer laas gesien?” kom dikwels na vore.
Ons huis leef lekker, ons is ingerig en dinge begin nou weer sy normale roetine aanneem. Die stempel op alles is die HXH 368 NW wat vervang is met CEM 5008 – dit was die “grand finale”.
Dinge by Nedsa het ondertussen ook nie stil gestaan nie en elke week vertrek daar ʼn paar au pairs na Nederland. Dit is wel ʼn groot verskil om vanuit ʼn hittegolf te vertrek, na Europa waar dit onlangs nog gesneeu het, en moontlik nog gaan sneeu. Maak vrede met die koue, jy kan niks daaraan doen nie en troos jou daaraan dat jy darem nou behoorlik die winterjas kan aantrek, want hier gebruik ʼn mens dit byna nooit nie.
Dit is nogal ook opvallend dat au pairs wat nou daar aankom, dikwels nou vrae vra aan ons hier, terwyl dit iets moet wees wat jy daar aan jou familie of aan Joyce moet vra. Die belangrikste is nou die KOMMUNIKASIE tussen jou en die gesin – moet die geleentheid om met mekaar behoorlik te kommunikeer, nie laat verbygaan nie. Moenie vrae vra soos die volgende aan jou agent of selfs jou ma nie: “Moet die gasgesin saam met my na die gemeente toe gaan om te gaan inskryf?” of “Gaan die gasgesin vir my ʼn treinkortingskaart koop?” of “Hoe moet ek met die kinders op stap gaan – fiets of loop?” Dis hierdie tipiese vrae wat aan Ma tuis gevra word, Ma sê sy weet nie, sal gou vir Tannie Rita of Tannie Annelies vra en ons almal sit by die 11,000 km van jou vandaan. Intussen is jy en die gasgesin in dieselfde huis – vra dit vir hulle!! Dit is wat ek bedoel met kommunikasie! Hulle byt nie, praat maar net Nederlands en vanselfsprekend kan julle nog eers met mekaar Engels praat om te verseker dat julle mekaar verstaan.
Kom meisies, wees manmoedig, soos wat jy hier was, en doen wat jy gesê het jy gaan! Nou moet jy ons verder beïndruk, soos wat jy gedoen het tydens die onderhoud! Die feit dat jy nou al in Nederland is, wys dat ons die volste vertroue in jou het.
Ons het die een groot versoek: Moet asseblief nie elke dag met Ma hier in kontak wees nie — ʼn Whatsapp-boodskap is genoeg, leer vroegtydig om op jou eie voete te staan. Ma sal beslis nie sleg voel as jy so nou en dan darem ʼn dag of wat sonder haar kan klaarkom nie, dit is die begin van die poging van jou om selfstandig en onafhanklik te wil wees. Begin dan nou ook sommer dadelik!! Aan ons Ma’s — staan terug asseblief en laat haar toe om haar voete op haar eie te vind.
So oor twee weke dan praat ons verder en kan ons kyk wat het intussen plaasgevind.
