ONTDEK DIE WONDER VAN NEDERLAND
Nederland, of soos ons dit ken, Holland, is ‘n moderne eerstewêreldland in Sentraal Europa. Die land bestaan uit 12 provinsies, waarvan Noord- en Suid-Holland twee is. Om hierdie rede praat ons soms ook van Holland. Nederland is so groot soos die Kruger Wildtuin en hier leef 16 miljoen mense ordelik saam. Dit is een van die digbevolkste dele in die wêreld. Nederland het geen berge nie, behalwe in die heel suidelike gedeelte. Dit maak dit so ‘n ideale land vir fietsry en daarom is dit ook deel van die kultuur om fiets te ry. Die spesiale fietspaaie, die voorkeur aan fietsryers en die heerlike fietse, maak dit die ideale fietsryland. Die fiets word dan ook die belangrikste vervoermiddel van die au pair. Geen au pair moet hiermee n probleem he nie, want dit soos dit in Nederland gedoen word.
Nederland is so sentraal in Europa geleë, dat dit baie maklik is om sommer vir n naweek Parys toe te gaan. Au Pairs gaan besoek dan ook gereeld bekende stede in Europa en in die somervakansie, is lande soos Spanje, Italië, Frankryk, baie gewild en selfs is lande soos Swede, Rusland en Kroasië ook al deur au pairs besoek.
Nederland self is ryk aan besienswaardighede. Allerlei museums, van die Rembrandt tot die seksmuseum – en alles tussenin. Dit is ’n hoogs-ontwikkelde tegnologiese land. As ‘n laagliggende land (vandaar die naam) wat in die verlede al oorstroom is, het briljante ingenieursvernuf ontwikkel, naamlik die Deltawerke om te verhoed dat dit ooit weer gebeur.Verder is Nederland bekend vir sy tulpe, windmeulens en klompe. Om nie eens van al die soorte kaas te praat nie.
Nederland het ook ‘n koningshuis, die Huis van Oranje. Koning Willem Alexander en sy Koningin, Maxima, met hul 3 dogters is baie gewild onder die bevolking. Elke jaar op 27 April word daar ook Koningsdag gevier. Au pairs is deel van hierdie feesviering en ook ander feesvierings deur die loop van die jaar.
Na 3 maande in Nederland is ons so tuis soos wat ons sal wees in ons eie huise. Die daaglikse roetine en die somtyds goor weer is alles deel van die pakket. En ons geniet elke oomblik daarvan. Op die oomblik aanvaar ons Nederland al as ons tuiste. Om Nederlandse vriende te maak en selfs die maatjies se ouers te leer ken, is vir ons baie belangrik. Die jaar lê soos ’n groot avontuur voor ons. Elke nuwe treinrit, elke nuwe kuiertjie op ’n ander plekkie, is soos nog ’n stukkie wat ons bylas in ons nuwe legkaart. Wanneer die verlange erg word in Nederland doen jy, wat ons noem, die klassieke “Alles is SA” dag. Ons as au pairs kom by mekaar en maak kos, kuier om die tafel soos wat ons altyd in Suid-Afrika doen. Ons praat oor al die wonderlike ervaringe wat ons al gehad het, en beplan toere en nuwe avonture.