Fietse, Dyke en Blomme

Daar is meer as 15 miljoen fietse in die land en 600,000 alleen in Amsterdam! Jaarliks vermeerder hierdie fietse met 15%! 85% van die bevolking koop fietse (en elke huishouding het ‘n hele paar) en daar is 10,000 kilometer wonderlike fietspaaie. Alle publieke geboue, parke ens. hou rekening vir fietsparkering. Die meeste nasionale paaie, behalwe die hoofweë, het spesiale fietspaaie langs die motorpad. Hierdie fietspaaie het dan ook in baie gevalle hulle eie verkeerligte en padtekens.

Op sommige fietspaaie word motorfietse nie toegelaat nie, en dan staan daar altyd ‘n baie interessante bord: “Hier niet brommen” Dit beteken dus dat bromfietse nie toegelaat word op die fietspad nie!

Kyk maar hoeveel fietse staan by die stasies! Die meeste mense werk dalk in ‘n ander stad/dorp en dan ry hy met sy fiets stasie toe, en dan word dit daar toegesluit en hy gaan werk toe met die trein. Vanaand as hy terugkom, gryp hy sy fiets en ry huis toe.

Die Hollanders is ‘n volk wat baie lief is vir fietsry. Dit kan ‘n mens sien aan die miljoene fietse wat daar is. Daar hoef maar net ‘n lafhartige sonnetjie te skyn, en die hele familie is buite op hulle fietse. Pa en Ma elkeen op ‘n fiets met een of twee kleintjie saam met hulle op die fiets en dalk nog een of twee kinders op hul eie fietse. En as daar plek is vir die hond, nog lekkerder! ‘n Hele uittog! Die wonderlikste is dat dit toelaatbaar is om te “lift” Moenie skrik vir die baie gryskoppe op hul fietse nie. Dis niks snaaks om ‘n ou tannie of oom van 80 jaar nog op ‘n fiets te sien ry nie.!

Die pensioenarisse (futters), maak ‘n gewoonte daarvan om dikwels in groot groepe vir ‘n hele dag van dorpie tot dorpie te gaan fietsry. Onthou dat die dorpies soms maar net 5 of 9 kilometer van mekaar af is! En onthou verder Holland is ‘n baie plat land met geen berge nie en dit maak fietsry heerlik!! Omdat fietse ook baie gesteel word, is spesiale fietspatrolliespanne ingestel en videokameras is geinstalleer daar waar baie fietse vasgemaak word.

Die Hollanders bou al vir 800 jaar dyke en damme om die land van oorstroming te red. Die grootste gedeelte van die land is (was) laer as seëspieël, maar ongelooflike tegnologie is ingespan om te keer dat die land weer so oorstroom soos in Januarie 1953. Holland het dan ook die beroemde Afsluitdijk wat die noordelike eilande met ‘n pad verbind dwarsdeur die see! By die suidelike eilande is daar die Deltawerke wat ongelooflike ingenieursvernuf toon. Beide hierdie plekke kan jy gerus gaan besoek, dis beslis die moeite werd.

Blomme speel ‘n baie belangrike rol in die Hollander se lewe. As jy jou dankbaarheid of simpatie teenoor mense wil toon, gee blomme, as jy uitgenooi word vir ‘n ete, neem blomme saam vir die gasvrou. Hulle is ‘n volk wat eerder blomme aan mekaar gee as byvoorbeeld kaartjies. Holland is die grooste uitvoerder van snyblomme in die wëreld. Elke 10 jaar word die Floriade gehou. Dit is ‘n ontsettende groot blommeskou. Jaarliks word gehou die Bloemencorso, die blombootparade deur Aalsmeer, Amstelveen en Amsterdam en dit vind in September plaas. Dit is ‘n kleurvolle prosessie met al die blomme op die bote.

Een van die grooste toeriste-aantreklikhede is Keukenhof wat net vir 6 weke in die jaar oop is, van Maart tot Mei. Dit is die blommetuin van 32 hektaar waar 6 miljoen tulpe uitgestal word. Afgesien van hierdie tulpe is daar nog baie ander blomsoorte ook. Buite Keukenhof staan die lande vol van hierdie kleurryke tulpe, gereed om gesny en uitgevoer te word. Dit is beslis iets wat jy moet gaan kyk. Jy sal beslis armer wees as jy dit nie gesien het nie. So iets moois kan jy jouself nie voorstel nie!