Hollandse gebruike en gewoontes

Die Hollanders is baie gesteld op stiptelikheid. Laatkom vir ‘n afspraak het nie ‘n verskoning nie. As jy dus ‘n afspraak met iemand maak, sorg dat jy betyds daar is en laat weet definitief as jy nie meer kan kom nie.

Moet nooit ‘n halwe waarheid vertel nie. Dis so goed soos ‘n leuen. Jy sal baie gevra word om te vertel oor jou gesin, die manier waarop julle lewe tuis. Hou asseblief by die waarheid en moenie dinge versin om hulle te probeer beindruk nie.

Die Hollanders beskou hulsef as ‘n nie-rassistiese volk en hulle is baie trots daarop dat hulle onbevooroordeeld staan teenoor ander rasse en kleur. Hulle wil ook hê dat die wêreld moet sien dat hulle nie-rassisties is.

Baie min kan gesê word van hulle maniere, hulle beskou dit as voortreflik. In Holland is dit die gewoonte om mense met die hand te groet as dit ‘n nuwe persoon is wat jy ontmoet. Sodra jy die persoon langer ken, is dit ‘n gewoonte om hom of haar drie maal op die wange te soen. Eers links, dan regs en dan weer links. Hulle soen nie graag op die mond nie.

As jy by ‘n persoon gekuier het en jy gaan weg, is die normale groet (behalwe die 3 soene op die wang) om te sê: “daaag”. Deesdae word die woord: “doei” (uitgespreek as “doo-eee”) ook baie gehoor wanneer mense afskeid neem.

Die Hollanders is baie lief vir kampeer en dit is ook baie lekker in Holland, want die meeste kampeerterreine beskik oor al die nodige geriewe soos warm storte, winkels ens. Omtrent elke huishouding in die land besit een of ander vorm van kampeertoerusting.

Kinders en groter mense is baie lief om sokker te speel by die kampeer-area, maar ook by parkeer-areas, gholfbane en terwyl hulle vir die trein wag.

Die gebruiklike vloekwoorde (wat ander is as dié in SA) is ook aan die orde van die dag. Die Hollanders het ‘n baie goeie sin vir humor, wees dus voorbereid daarop dat een of andertyd een of ander poets op jou gebak gaan word!

Hulle eetgewoontes is beslis anders as by ons. Die hoofmaaltyd word in die aand geëet en in die middae gewoonlik ‘n broodjie met kaas, koue vleis ens. Brood met wat-ook-al-op word met mes en vurk geëet en nie soos by ons met die hand nie. Kyk dus daarna en doen dit soos hulle dit doen. As daar koue vleis is, dan sit jy dit op ‘n sny brood en eet dit nie apart nie. ‘n Mens sit ook nie twee verskillende dinge op jou brood soos grondboontjiebotter (pindakaas) en konfyt nie! Net een van die twee en sou jy dit wel doen, dan is jy veronderstel om ‘n sny brood met niks op te eet!

Omdat alle huise binne verwarm is in die winter, is dit nie nodig om met ‘n jas in die huis aan te loop nie. Dit word ook as baie onbeskof beskou, sou jy met jou jas in die huis aanloop. Dit is nogal by ons Suid-Afrikaners die gewoonte om met ons jasse aan styf teen die kaggel te sit en dikwels staan die voordeur ook nog oop vir vars lug, maar daar is alles binne verhit, dus is dit beslis nie nodig vir die jas nie! Dit lyk in elk geval baie ongesellig om met ‘n jas aan te loop, dit beperk jou beweeglikheid en dit lyk ook of jy vir jouself kom kuier en of jy alweer op pad uit is. Met ‘n jas aan sou jy ook nie na behore kan werk nie!

Dis ook uiters onbeskof om aan tafel te sit met jou selfoon en vir jou ouers of vriendinne te sms. In Nederland is die selfoon (mobiel) net daar vir noodgevalle en nie soos hier waar ons almal aan een loop en klou nie. Dus aan etenstafel het jy beslis nie jou selfoon by jou nie en dit word ook as onbeskof beskou as jy, tydens ‘n gesprek, jou selfoon gaan beantwoord.

Trou vs saamwoon: Dit is oor die algemeen gebruiklik dat ‘n paartjie eers gaan saamwoon voordat hulle gaan trou (indien hulle tot trou kom). Dit kan dus wees dat jy by ‘n gesin kom wat nie getroud is nie, maar tog al ‘n paar kinders het. As hulle wel trou is dit ook nie te sê dat die vrou die man se van aanneem nie. Die kinders kan byvoorbeeld ook op die ma se van geregistreer wees. Hou dus rekening hiermee.

Die wetlike deel van die troue word voltrek in die Stadshuis en as die paartjie aan ‘n kerk behoort, dan volg die troue verder in die kerk. Dit is omdat die predikante daar nie die wetlike bevoegdheid het wat die predikante hier het nie.

Die man in die gesin is ook nie noodwendig meer die tradisionele broodwinner nie. Hollandse vroue, en veral die jonger vroue, is baie beroepsgerig, vandaar dat baie van hierdie gesinne ‘n au pair in diens neem.

Die Hollanders is baie lief vir koffie en het ‘n spesiale koffie-kultuur. Hulle lewe van koffie. Dit is baie sterk en baie geurig en jy kan dit orals kry waar jy dit normaalweg nie sou verwag nie: stasies, op die intercity treine ens. Dit is nooit kitskoffie nie, maar filterkoffie en daarom is die koffie-apparaat so ‘n belangrike apparaat in die kombuis. Die tye wanneer hulle koffie en tee drink is net mooi andersom as hier in Suid-Afrika. Hulle begin die dag met ‘n koppie tee saam met die ontbyt en teen 11 uur (koffietijd!) drink hulle koffie. Vanmiddag drink hulle weer tee en saans weer koffie. Seker daarom dat hulle nooit vroeg gaan slaap nie – die koffie hou hulle wakker!

Die Hollanders het bewys dat hulle respek het vir godsdiens. Die land is verdeel tussen Katolieke en Protestante. Wat die verhouding is, is onseker, maar in die suidelike gedeelte van die land (wat aan België grens), is daar meer Katolieke. Net soos hier ook maar, is daar baie mense wat nie meer hul godsdiens aktief beoefen deur kerk toe te gaan nie, maar dit beteken nie dat hulle negatief daaroor is nie. Dwarsdeur Holland kan jy die mooiste kerke (veral die Rooms Katolieke kerke) gaan besoek. Sommige van hulle is eeue oud!

Verjaarsdagspartytjies is ook weer ‘n kultuur op sy eie. Dit begin gewoonlik eers teen 8 uur die aand. As jy genooi is, word dit van jou verwag om ‘n geskenk of blomme te bring. Gewoonlik is dit baie informeel en die aand word begin met koffie (hoe dan nou ook anders!) en koek. Daarna volg die bier en drankies (een borreltje). Op ‘n stadium sal van die gaste begin sing: “Lang zal hij leven”. So ‘n verjaarsdagpartytjie is gewoonlik ‘n baie gesellige geleentheid.

Koningsdag word op 27 April gevier. Op hierdie dag sal die Koning, Willem Alexander en sy vrou, maxima en hul 3 dogters, ‘n paar dorpe of stede besoek terwyl daar ook in die res van die land feesgevier word.

Sinterklaas word op 5 Desember gevier en dit is dan wanneer Kersfeesgeskenke uitgedeel word deur Sinterklaas en sy handlanger, Swarte Piet. Nou word die kerskouse voor die kaggels gesit en almal hoop dat dit die volgende oggend vol geskenke is.

Kersfees word steeds op 25 en 26 Desember gevier, maar die materiële deel van Kersfees word geskei van die godsdienstige deel. Die toppunt is natuurlik wanneer ‘n mens ‘n Wit Kersfees kan meemaak. Hoewel dit dan in die middel van die winter is en die dae maar kort is, lê die geselligheid binne in die huise en in die winkels.

Ou-en Nuwejaar: Met die aanbreek van die nuwejaar kan dit vir die toeris of vreemdeling voel sy is binne in ‘n oorlog. Dit is die enigste tyd wat vuurwerke in die land toegelaat word. Dit duur dwarsdeur die nag. Restaurante en kroeë bly ook dwarsdeur die nag oop, maar publieke transport stop teen 8 uur die aand.

Bevrydingsdag word gewoonlik vroeg in Meimaand gevier. Dit is die herdenking van die bevryding van Duitse besetting in 1945. In teenstelling met SA, sal die winkels op Hemelvaartsdag gesluit wees. Ook op Sondae is die meeste winkels toe. Hier en daar sal ‘n klein kafeetjie oop wees, maar beslis geen groot winkels en supermarkte nie! In die groot stede mag daar wel winkels oop wees, maar nie sommer op die platteland nie.

Aanspreekvorm: Niemand daar word “ge-tannie” of “ge-oom” nie. Jy noem hulle op die naam, maak nie saak wat die oudersdomsverskil is nie. Aanvanklik gaan jy daarmee sukkel, maar jy sal mettertyd daaraan gewoond raak. Dis nie disrespekvol nie, dit is maar hoe dit daar gedoen word. As jy sukkel daarmee, hoor maar wat sê jou gasgesin hoe jy hulle kan aanspreek.

Telefoonmaniere: Dit is die gewoonte in Holland dat jy dadelik jou naam sal sê sodra jy die telefoon beantwoord. As jy dit nie doen nie, gaan jy in elkgeval gevra word wat jou naam is. “U spreek met …” Net soos hier in SA het hulle ook selfone, maar hulle noem dit ‘n mobiele telefoon. Dit word daar net as noodsaaklik kommunikasiemiddel gebruik en hulle is beslis nie so selfoonverslaaf soos ons nie! Dis uiters onbeskof om aan tafel tydens ete te sms of te bel. Tydens ete los jy jou selfoon in jou kamer.