Openbare Vervoer
Die openbare vervoerstelsel in Holland is só fantasties dat ‘n motor soms oorbodig is.
Dis die lekkerste om met die treine te ry, want hulle is altyd betyds, vinnig en baie. As die trein 10:10 moet vertrek, dan vertrek hy nie 10:11 nie. Wees dus gewaarsku om nie laat te kom nie. Vir ons Suid-Afrikaners wat nie meer gewoond is aan stiptelikheid en effektiwiteit nie, kan dit nogal lastig wees. Op die stasie word die vertrek- en aankomstye baie duidelik uiteengesit en ook al die stasies waar die trein gaan stop. As jy jou kaartjie by die stasie koop, vra vir ‘n “uitdraai” Dit is bykomende inligting van hoe laat jy by jou bestemming gaan wees, waar jy moet oorklim, hoe lank jy tyd het voordat jy die ander trein kry en op watter perron jou trein sal wees. Dit is baie handige inligting veral as dit die eerste keer is wat jy op jou eie gaan treinry. Treinry kan duur wees, maar moontlik is daar spesiale pakkette wat aangebied word, vra jou gasgesin daaroor. Dit sal goed wees om ‘n treinkortingskaart te koop. Hiermee kry jy elke keer 40% afslag op die prys van jou kaartjie en sodoende kan jy baie spaar deur die loop van die jaar.
Moenie skrik as jy honde op die trein sien nie – dit mag en hulle is in elk geval so goed opgelei dat hulle gedrag soms beter is as dié van die eienaars! Fietse mag ook op die trein saam gevat word, maar dan moet die persoon en sy fiets in die staangedeelte bly. Daar is ook die intercity treine wat die sg. sneltreine is en wat die kleiner stasies verbyry.
Die bus- en tremdiens is net so gerieflik. Beide word gewoonlik gebruik vir vervoer binne-in die stad. Die “slogans” op die busse en trems kan soms baie vermaaklik wees: in Tilburg het ek gesien dat op ‘n bus die volgende staan: “Tilburg heeft 10,000 kg hondepoep per jaar” Ek het gewonder of hulle spog of kla!
Taxi’s is natuurlik ook volop en dit is gewoonlik Mercedes Benze en Opels. Behalwe vir die gewone taxi’s is daar ook die treintaxi’s wat net by die stasies staan en jou vandaar na jou bestemming neem. Jou treinkaartjie kan ook die prys van ‘n treintaxi in-sluit as jy dit vooraf so koop. Treintaxi’s kan jou ook by jou huis kom haal en na die stasie toe vat, maar dan moet jy eers stasie toe om daardie spesifieke kaartjie so te koop.!
Sekere taxismaatskappye in Eindhoven, Den Haag, Rotterdam, Tilburg en nog ‘n paar ander stede, het wetlike toestemming daarvoor om “sagte drugs” af te lewer van deur-tot-deur. Die volgende voorwaardes geld:
- Geen advertering aan skoolkinders nie.
- Geen verkope aan minderjariges nie.
- Geen versteuring van die rus en vrede van die inwoners nie.
- Geen besigheid met die doel om wins te maak nie.
As jy byvoorbeeld ‘n dag na Keukenhof toe wil gaan, dan moet jy met die trein na Leiden en by die stasie kry jy dan ‘n bus wat jou na Keukenhof toe vat. Nou kan jy by die stasie waar jy opklim die kaartjie koop wat die treinreis, buskaartjie en ook sommer die toegangskaartjie tot Keukenhof ook insluit! Lekker gerieflik en dit werk!.
Openbare toilette word baie goed versorg en is skoon en netjies. Dit kos jou dikwels geld om in te gaan of dit word van jou verwag om ‘n geldstukkie in ‘n bakkie te los. Hierdie plekke word gewoonlik deur ouer dames skoongehou.