Reëls vir Inkopies
Die Hollanders hou daarvan om “window shopping” te doen en is altyd opsoek na ‘n “bargain”.
In supermarkte moet ‘n deposito betaal word vir ‘n waentjie. Onthou daar word nie in so ‘n grootmaat gekoop soos hier by ons nie. Dikwels word daar daagliks kos gekoop vir dit wat dié dag geëet gaan word. Die rede hiervoor is dat daar niemand is wat jou help om jou items in ‘n sak te pak nie (jy moet dit self doen) en niemand help jou om jou pakkies kar toe te dra nie. Dikwels sien ‘n mens die vrouens wat op hul fietse gaan inkopies doen en dan moet alles in die drasakke kom wat langs die fietse afhang. As jy by die betaalpunt kom, is die bekendste woorde:“dag” (goeiedag) en “zegels?” Dit is die besparingskoeponne soos wat ons hier ook maar kry. Moet nooit vra vir die “serpje” nie, want dit het ‘n heel ander betekenis. Vra vir die “bon Heijn”.
Die supermarkte is ook nie so groot soos wat die Pick ‘n Pays hier by ons is nie. Die bekendste supermakte daar is Albert Heijn, Jumbo, Edah, Aldi, Lidl ens. ‘n Mens kan jou net verkyk aan die produkte binne in hierdie supermarkte. Die verskillende soorte brood slaan ‘n mens se asem weg! Sulke mooi en vars groente en vrugte sien ‘n mens nie sommer hier nie. Om nie eens van hulle heerlike koek en tertjies te praat nie!!
In elke dorp en stad is daar een maal per week mark op die plein gewoonlik in die middel van die stad/dorp. Elke plek het sy spesifieke markdag. Hier is dan kraampies met enige iets wat jy wil koop. Die lekkerste van so ‘n mark is gewoonlik die kaaskraampie waar jy dan ‘n verskeidenheid van kaas kan proe. Daar is ook gewoonlik ‘n viskraampie en moenie vergeet van dié kraampies wat die tradisionele “kroketten” maak, of die “haringkraampies” nie Jy sal nie die land ervaar het as jy nie van albei geëet het nie. Kroketten word ook in restaurante bedien.