Tradisionele Geregte

Stamppot: Kapokaartappels met gekookte groente en vleis is baie gewild. Dit moet nie verwar word met Hutspot nie. Laasgenoemde is ‘n gereg ook met aartappels, uie, wortels en vleis in een pot. Dit is veral baie gewild in die wintermaande.

Appelgebak is baie gewild. Daar bestaan geen restaurant, koffiekroeg of bakkery wat dit nie te koop aanbied nie. Nêrens smaak dit dan ook so lekker as daar nie. Dit kan opgedien word met slag-room (geklitste room) en saam met koffie is dit heerlik!

Niemand kan erwtensoep maak soos die Hollanders nie (ertjiesop). Binne in hierdie sop is dik stukke ham en groente. Dit is beslis ‘n nasionale gereg en ‘n gereg op sy eie en beslis nie ‘n voorgereg nie. Die Hollanders is baie lief vir sop en in elke restaurant kan jy dwardeur die jaar verskillende soorte sop kry.
Die uitsmijter is ook baie gewild. Dit is brood met ham en kaas met een of twee gebakte eiers daarop.Vir ontbyt eet die Hollanders gewoonlik, wat ons hier sou noem, ‘n kontinentale ontbyt. Dit bestaan gewoonlik uit verskillende snye brood of broodjies, met koue vleis of verskillende soorte kaas en dan ook soetgoed soos konfyt en veral appelstroop, Hollandse beskuit met “muisjes” is baie gewild. Brood word meestal met mes en vurk geeët.

In die middae bestaan die middagete ook meestal uit brood (hulle is baie lief vir brood) en omdat daar so ‘n verskeidenheid van soorte brode is, is dit nie eentonig om weer brood te eet nie.

Die hoofete of warme maal is saans wanneer die hele gesin bymekaar is. Dit is dan die gekookte ete en aartappels is baie belangrik en kry ‘n mens by feitlik elke hoofmaaltyd.

Die aartappels daar het ‘n baie geler kleur as hier en smaak heerlik. Die eiers daar is ook baie geler as hier, omdat dit scharrelen-eiers is. Dit is van skrophoenders en nie hoenders wat op hok sit net om eiers te lê nie.

Die eet van haring sommer so by ‘n kosstalletjie sal jou laat verstom watter kuns dit is om dit op dié manier te eet. Haring is skoongemaakte, gepekelde rou vis, wat aan die stertjie gevat word en so in die keel “afgegooi” word.

Buitelandse tipe restaurante word ook baie in Holland aangetref: Italiaanse, Griekse, Chinese restaurante ens. Maak nou nie saak waar jy eet nie en saam wie nie, maar dis die gewoonte om net voordat ‘n mens begin eet te sê: “Eet smakelijk, smakelijk eten of eet ze”.

In die meeste restaurante in Europa is ‘n fooitjie van 15% reeds by die rekening ingesluit, maar die Hollanders het die gewoonte om nog iets ekstra vir die kelner by te sit.

Jy is ook nou in die land van die “dropjes”. Dit is Holland se bekende “licorice” lekkers en dit het veral bekend geword as “zoute drop” Jy kan dit in pakkies koop of vars waar jy jou eie afweeg. Vir die meeste Suid-Afrikaners het dit ‘n vreemde smaak en deesdae kan jy ook soet drop kry en dit kom in alle soorte vorms waaraan jy maar kan dink.

As jy by mense tuis genooi word vir ‘n koppie koffie sal jy ook een of ander vorm van koekie aangebied word. Dit is gewoonlik in ‘n metaalblik en sodra jy een koekie geneem het, word die blik toegemaak en gebêre. As jy nie wil koffie drink nie, kry jy ook nie ‘n koekie nie!

Om skottelgoed te was het ‘n ritueel geword! Eers word die vuil skottelgoed baie goed afgespoel. Dan word ‘n plastiese bak binne in die wasbak gedruk en daarin word die skottelgoed dan gewas. Dit word ook gewas met ‘n borseltjie in baie warm water. Dis nou te sê as daar nie ‘n skottelgoedmasjien is nie! Deesdae het al die moderne huishoudings dit.

Die weggooi van skille, papiere, glasstukke, plastiek ens. word ook nie sommer alles in die vullisdrom gegooi nie. O nee, jy moet baie seker maak hoe dit gedoen moet word, anders haal jy vir jou ‘n klomp moeilikheid op die hals. Vra dus eers hoe dit gedoen moet word, want sommige afval mag nie bymekaar gegooi word nie.

Die twee handigste apparate in die kombuis is die kaasschaaf vir die sny van kaas en die flessenlikker. Laasgenoemde verg nogal vaardigheid om te kan gebruik, maar laat dit maar eers vir jou gedemonstreer word. Dit is ‘n handige apparaat om die laastes uit ‘n bottel of fles te kry.