‘n Paar van die meer algemene probleme wat Au Pairs
soms in Nederland ondervind.
Verlange
Die eerste uitdaging is die verlange na Suid-Afrika en alles wat bekend is. Almal ervaar dit een of ander tyd. Sommige verlang al vroeg terug huis toe en ander word weer heelwat later deur heimwee en verlange beetgepak. Die grootste klomp au pairs vertrek gewoonlik in Desember en Januarie vanuit Suid-Afrika en kom dus in die winter in Nederland aan. Die weer speel dus nie lekker saam nie en dis dalk ook die eerste Kersfees en/of Nuwejaar wat die au pair weg is van die huis af. Dit alles kan die aanpassing bemoeilik. Die belangrikste is om nie sommer dadelik te wil huis toe bel nie, maar eerder iets gaan doen wat lekker is en jou aandag kan aflei. Die gesinne is gewoonlik hierop voorbereid en sal die au pair deur hierdie aanpassingstyd help.
Treinry
Omdat ons nie eintlik hier in Suid-Afrika met die trein reis nie en dit hier gevaarlik kan wees, dink au pairs dat dit daar in Nederland ook so is. Inteendeel, dit gaan, behalwe vir jou fiets, die bus en die tram, jou belangrikste vervoermiddel wees! Dit is belangrik om so gou as moontlik vertroud te raak met die koop van ’n kaartjie, hoe om die treinrooster te lees, te klim, te ry en veral te geniet!
Die weer
Die au pairs wat in die winter in Nederland aankom, is die koue nie gewoond nie en veral ook nie die kort dae en die kort tydjie wat dit lig is nie. In die winter kom die son dikwels eers by 9 uur op en by vieruur in die middag sak dit weer. Die geselligheid is dus meer binnenshuis: in die huise, die winkels ens. In die somer is dit net weer andersom, want dan kan die dae baie lank wees met die son wat eers hier teen 10 uur in die aand sak. Die baie reën kan ook ’n probleem wees, want jy moet die kinders skool toe vat op/met die fiets, maar almal daar is aangepas en val in by die weersomstandighede. Doen dieselfde! “When in Rome, do as the Romans do…”
Kultuurverskille
Jy sal gou agterkom dat daar kultuurverskille tussen SA en Nederland is en jy kan ook in die Handleiding meer inligting hieroor kry. Die beste is om te maak soos hulle maak.
Selfone
’n Selfoon is net ’n noodmiddel in Nederland. Moenie dit by jou dra as jy werk nie, en jy beantwoord dit beslis nie in geselskap of aan tafel nie. Moenie die hele dag op jou selfoon lê nie – daar is baie om te ontdek in Nederland.
Au pairs wat omstandighede vergelyk
Dis redelike algemeen dat au pairs by mekaar kuier en dan hulle omstandighede wil vergelyk. Onthou net: Geen twee gesinne se omstandighede is eenders nie, en jy kan nie jou omstandighede met ’n ander au pair s’n vergelyk nie. As een au pair moet stryk en ’n ander een nie, moet die een wat dit moet doen nie vra waarom die ander een dit nie hoef te doen nie. Elke au pair het ’n werkbrief (werkrooster) wat die 30 uur van die week duidelik uiteensit.
Au pairs wat van hulle gesinne skinder en stories kry ’n stertjie
Skinderpraatjies kan verreikende gevolge hê. Au pairs is al in die verlede teruggestuur Suid-Afrika toe omdat hulle skinderstories oor hul gesinne versprei het. Moet nie toelaat dat so-iets met jou gebeur nie.
Persoonlikhede bots
Dit kan gebeur dat die au pair en die vrou van die huis se persoonlikhede net van so aard is dat hulle glad nie met mekaar kliek nie. Dit gebeur gelukkig nie baie nie, maar sou dit wel gebeur dan gaan NEDSA altyd van die veronderstelling uit dat dit ’n oulike au pair is, ’n oulike gesin en ’n oorplasing word gedoen. Dis is slegs in uiterste gevalle en indien ons alles in ons vermoë gedoen het om die probleme op te los. ’n Oorplasing is nie altyd so maklik nie, want daar is baie dinge op die spel.
Die taal
Hoewel Nederlands baie soos Afrikaans is, kan dit wees dat jy en veral dan die kinders mekaar aanvanklik nie mooi verstaan nie. Met die ouers kan jy in die begin in Engels kommunikeer, maar vir die kinders is dit moeilik. Dus as jy hulle nie verstaan nie, is dit die beste om vir hulle te vra om jou te wys wat presies hulle wil hê of nodig het. Dit kom gelukkig gou reg en die taalkursus help natuurlik ook baie.
Die au pair en fietsry
Sommige au pairs het ’n “image” probleem, want as jy hier in Suid-Afrika fietry, beteken dit eintlik jou ouers kan jou nie kom haal nie en dit doen net jou “image” nie goed nie! Daar is dit egter deel van jou elke dag se bestaan en doen jy niks sonder die fiets nie. Niemand lag vir iemand nie, en jy sal verstom staan om al die oumense op hulle fietse te sien. Maak dus vrede daarmee, want ’n au pair wat nie kan of wil fietsry nie, moet nie in Nederland gaan au pair nie.
Die emosionele “dip” na ongeveer 6 maande
Ons is as agente voorbereid daarop dat sommige van die au pairs na veral die hoogtepunt van die fantastiese somervakansie, deur ’n emosionele laagtepunt kan gaan. Sy dink die klimaks is bereik en nou lê daar nog 6 maande voor. Of die ouers of ma het kom kuier en moet weer weggaan, dan gebeur dieselfde. Die beste is dan om weer planne te maak om plekke te besoek wat jy nog nie gesien het nie, want gewoonlik vlieg die laaste 6 maande baie vinnig en die meeste au pairs kla by hul terugkeer dat hulle nog nie alles gesien of gedoen het wat hulle wou nie.
Onthou, NEDSA NEDERLAND en NEDSA SUID-AFRIKA is altyd gereed om te help met enige probleem wat mag voorkom.