Wat is die prosedure wat
jy moet volg?

Indien jy belangstel om as ’n Nedsa Au Pair na Nederland te gaan, soek die agent wat die naaste aan jou is, en maak kontak met haar. Sy sal dan met jou reël vir ’n keuringsonderhoud.

Keuring

Die agent by wie jy eerste aanmeld, doen die eerste onderhoud. Niks om voor bang te wees nie, maar die agent moet kan vasstel hoe jy dink en voel en hoe jy dus sal aan- en inpas by nuwe omstandighede. Annelies doen ook die eerste onderhoud van au pairs wat by haar aanmeld en die tweede onderhoud van die au pairs van ander agente. Dit is nodig dat ten minste twee agente die onderhoude doen om ’n objektiewe beoordeling te doen. As jy gekeur word stuur Annelies vir jou die nodige dokumentasie waarmee jy op die portalstelsel geregistreer word. Tesame met Joyce in Nederland, soek ons na ’n geskikte gesin vir jou en stuur die registrasiedokumente daarvoor na die spesifieke gesin wat ons vir jou in gedagte het. Die registrasiedokumente bestaan uit: informasieformulier, brief van jou aan ’n gesin, die uitslag van die onderhoud en ’n foto.

Dokumentasie

Na die keuring gaan jy met die aansoek van dokumentasie begin. Dit kan ’n paar maande duur. Die belangrikste dokumente is die Geboortesertifikaat (Unabrigged), paspoort en die huwelikstaat wat vir ons moet bewys dat jy nie getroud is nie! Die geboortesertifikaat en huwelikstaat moet beide apostilles kry. Dit is slegs beskikbaar by die Departement van Buitelandse Sake in Pretoria. Ons kan ook ’n vinniger metode volg om die bewys van nie-getroud-te-wees, in die hande te kry. Kyk in die dokument “Costs” wat Annelies aan die begin van die  proses vir jou deurgestuur het.

Gesin

Voel jy positief oor hulle, sal die agent ’n skype gesprek reël tussen jou en die gesin. Hierdie gesprek sal dan bepaal of hulle jou gaan aanvaar of nie.

Al die nodige dokumentasie word dan na Joyce gestuur wat namens die gesin en jou, aansoek doen vir die visum. Die goedkeuring vir die visum duur gewoonlik 2 weke.

Nederlandse Ambassade

Sodra die goedkeuring van Nederland deurkom, moet jy in persoon jou gaan aanmeld met die nodige dokumente, by die Nederlandse Ambassade. Jou agent sal ’n afspraak vir jou maak by die Ambassade. Verder sal jou agent vir jou die nodige dokumente aanstuur wat jy moet saamneem. Dit is dan nou om die visumstempel in jou paspoort te kry. As jy dit ingegee het, kan jy dit na ‘n paar dae kom haal. Daar is nie so iets soos ’n een-dag-visum nie. Jy kry ’n kwitansie om te toon wanneer jy dit wil kom haal, en enige iemand kan dit ook namens jou kom haal. Dit hoef ook nie presies na ‘n paar dae gehaal te word nie. Au Pairs wat in Kaapstad na die Konsulaat gaan, sal ’n bietjie langer wag vir hul visum.

Nou is alles gereed vir jou om na Nederland te vertrek.

 

NB: Onthou om ALLE dokumente saam na Nederland te neem.