Voornemende Au Pairs moet aan die volgende minimum vereistes voldoen
- Jy moet tussen 18 en 25 jaar oud wees. Jy kan die agent al kontak wanneer jy 17 is, maar sodra die gesin met die MVV-aansoek (visum) begin, moet jy reeds 18 jaar oud wees.
- Matrieksertifikaat (met ten minste 60% gemiddeld) of indien nie matriek nie, moet au pair minstens 21 jaar oud wees.
- ‘n Noodhulpsertifikaat is nie meer ‘n vereiste nie, maar ‘n aanbeveling.
- ‘n HIV, TB en swangerskaptoets.
- Ten minste 50 uur se praktiese ervaring van kinders oppas.


- Jy moet bereid wees om ook ligte huishoudelike werk te verrig soos afstof, stofsuig, was/stryk en kook. Dit is deel van ‘n Au Pair se werk.
- Beslis nie lui, lam en lusteloos wees nie, want ‘n Au Pair se werk vra vir ‘n kreatiewe, opgewekte, avontuurlustige jongmeisie of jongman wat bereid sal wees om buigsaam te wees en inisiatief te neem om vooruit te kan dink en te kan beplan.
- Dit is baie belangrik dat NEDSA au pairs Afrikaans en Engels goed kan praat. Sommige gasgesinne wil hê dat die au pair met die kinders Engels praat.
- Die au pair kry wel ‘n taalkursus om Nederlands aan te leer.
- Au pairs moet beslis kan fietsry. Dit gaan jou belangrikste vervoermiddel wees. Hiermee moet jy beslis geen ‘image’-probleem hê nie.

Dit is nie noodwendig nodig om al die ondervinding te hê van kinders oppas wanneer jy ‘n agent vir die eerste keer kontak nie. Jy kan hierdie ervaring opdoen deur die loop van die jaar terwyl jy op jou dokumentasie wag.
Indien jy belangstel om as ‘n NEDSA Au Pair na Nederland te gaan moet jy die agent wat die naaste aan jou is, kontak. Sy sal met jou reël vir ‘n keuringsonderhoud.
Laai solank die aansoekvorm af, voltooi dit en stuur dit terug aan jou agent of Annnelies Gibbs (e-posadres: annelies@nedsa.co.za). Onthou om ‘n onlangse foto (kop-en-skouers) van jouself in te sluit.
Wil jy meer inligting hê? Lees gerus ons uitgebreide handleiding wat jou meer sal vertel oor die lewe van ‘n au pair in Nederland.