MET RAAD & DAAD

Wat maak ek as die kinders nie na my wil luister nie?

Annelies Gibbs, NEDSA SA

19 Augustus 2017

[supsystic-social-sharing id='1']

As jy met die idee rondloop dat die kinders dadelik na jou sal luister, maak jy ʼn groot fout. Veral as jy onseker voorkom, dan vat hulle die gaping soos ʼn wafferse vleuel in ʼn rugbywedstryd. Neem daarby in ag dat die Nederlandse kinders beslis wyser is as ons kinders en in ʼn hele ander dissiplinêre sisteem groot word as ons kinders hier. Hierdie kinders by wie jy gaan au pair, moet die keuse hê om na jou te wil luister.

Hoe dus nou gemaak?? Kyk of hierdie volgende riglyne en wenke vir jou kan help:

  1. Wees konsekwent. Jou reëls moet deurlopend toegepas word, want dit gee struktuur. Die kind moet weet watter straf by watter oortredings kan toegepas word.
  2. Kies duidelike grense. Die kind moet weet wat is aanvaarbaar en toelaatbaar. Grense verskaf ʼn veilige gevoel by kinders. Dit help ook vir hom om selfbeheer te ontwikkel.
  3. Gee keuses met gevolge. Die kind moet leer dat sekere gedrag sekere gevolge het. Bv. As jy op my skree, gaan ek nie luister nie OF gooi ʼn tantrum en jy gaan time out kry. So leer hy dat minder lekker gevolge volg op wangedrag en leer selfdissipline toepas.
  4. Onderskei tussen kind en gedrag. Wanneer die kind iets stouts gedoen het, wees versigtig om nie ʼn etiket om sy nek te hang nie. Keur die gedrag af en nie vir hom nie. As jy hom gaan uitmaak as ʼn monster, gaan sy vertroue in jou vir altyd ʼn knou kry.
  5. Praat sodat die kind dit verstaan. Moet nooit reëls opstel in die hitte van die oomblik nie. Verduidelik ʼn reël in die taal wat hy dit kan verstaan en nie bo sy vlak nie. Kinders oortree dikwels ʼn bepaalde reël omdat hulle dit nie mooi verstaan nie.
  6. Hou die toekoms in gedagte. Dink langtermyn … wat bereik jy deur nou op hom te skree? Moet ook nooit te moeg wees om te dissiplineer nie, want dan gee jy die gaping wat hy gaan neem. Moet ook nie dat jou emosionele toestand die straf bepaal nie.
  7. Moenie uitstel nie. Om goeie gedrag te versterk en swak gedrag te ontmoedig, moet dadelik opgetree word, anders is die situasie van die hier en nou verlore. Kinders het ʼn kort geheuespan, en as jy dreig om sy ouers vanaand te vertel, het hy alweer vergeet wat hy verkeerd gedoen het.
  8. Prys as hy/sy iets goeds doen. Hy/sy soek ook altyd jou goedkeuring en weet dikwels nie wat hy moet doen om dit by jou te kry nie. As jy hom prys vir wat hy goed doen, gaan hy dit weer doen.
  9. Wees realisties. Dikwels ontstaan dissipline probleme omdat jy onrealistiese verwagtinge het. Dit dien geen doel om grense te stel bo die kind se oordeelsvermoë nie. Jy kan nie van ʼn eenjarige dieselfde gedrag verwag as ʼn 4-jarige nie.Pas jou dissipline aan by die ouderdom van die kind.
  10. Beplan en Voorkom. Roetine maak dissipline makliker. Binne bepaalde roetine voel die kind veilig en wyk grootliks daarvan af en jy sit met ʼn onhanteerbare, prikkelbare kind. Roetine vra dus ook deeglike beplanning van jou kant af.
  11. Wees selfversekerd. Dis is baie belangrik dat die kinders die idee moet kry, dat jy in beheer is. Moenie vra: “Wat doen ons vandag nie”. Sê eerder: “Dít gaan ons vandag doen” Dan gaan hulle jou volg, maar om jou te volg, moet jy dus weet wat jy gaan doen. Beplan dus al in die aand die aksies van die volgende dag.
  12. Gee baie liefde. Wys nog altyd dat jy hulle liefhet en gee baie “knuffels” (hugs). Dit laat die kind veilig en gekoesterd voel . Dit laat jou ook goed voel, want ʼn kind wat liefde ontvang, deel net so veel weer uit.

Probeer dit, en sien en ervaar die positiewe resultate.

Volgende keer praat ek oor: Hoe hanteer ek dit as ek nie met my hostma oor die weg kom nie?

Share This