INSPIRASIE
ʼn Wonderlike geleentheid
Annelies Gibbs, NEDSA SA
5 Junie 2019
Met my onlangse 3-weke besoek aan Nederland en die bywoning van ʼn au pair-dag, het ek weer eens besef hoe gelukkig die meisies is om so ʼn geleentheid te kry om vir ʼn jaar te kan au pair. Behalwe dat hulle meteens ʼn eerste-wêreld beleef, (en nie een weet regtig wat ʼn eerste-wêreld beteken nie, want hulle is in die Nuwe SA gebore), leer hulle ook om op hulle eie twee voete te staan en selfstandig te word.
Dit was vir my die opvallendste: daardie skugter, skaam en eintlik verleë meisie wat ʼn paar maande gelede nog onderhoude moes doen en soms gesukkel het om haarself uit te druk, beweeg hier in hierdie wêreld, asof sy daarvoor gemaak is. Dit het vir my ook weer eens gewys hoe aanpasbaar jongmense eintlik is. Maar ek het nog altyd gesê: dit is baie maklik om aan te pas by aangename omstandighede.

As ʼn mens gaan kyk na hulle byskrifte by hulle Facebook inskrywings en foto’s, kom jy ook onder die indruk dat dit by hulle nie net gaan oor oppervlakkige geluk van die hier-en-nou-nie, maar ook die dieper dinge en geluk wat hulle beleef:

“Be gentle on your growing soul.”

“Sky above, sand below, peace within.”

“Exist to be happy, not to impress.”

“Ware geluk is ʼn direkte uitvloeisel van ʼn dankbare hart.”

“Every next level of your life will demand a different you.”

Dit is darem so ʼn klinkklare bewys dat ʼn au pair die dieper betekenis van geluk ook ervaar.

Maar vrolikheid is daar genoeg onder die au pair-klomp. Uitdagings ook, dit het ek veral gesien met die bootjietrap op die gragte van Amsterdam en ook by die Heineken Experience se bierdrink! Die empatie was ook groot by die besoek aan die Anne Frank Museum en die besef hoe hierdie jong Jodinnetjie tydens die Tweede Wêreldoorlog moes leef!

Nee wat, ek voel baie goed oor ons au pairs, want hulle maak die beste gebruik van die geleenthede wat na hulle kant toe kom. Ook kan hulle met trots praat oor “my kinders” of “my gesin”. Splinternuwe vriendskappe het ontstaan wat nooit weer gebreek gaan word nie, want saam het hulle die wonderlikste ervaring van hulle jong lewe!

Daar is beslis groei (letterlik en figuurlik) by ons au pairs en dis tog ook waarom dit gaan, is dit nie? Die kulturele uitruilprogram is dus wel duidelik ʼn groot en deeglike sukses!

Share This